(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

Dit gebeur dat individue wat van dwelms en drank afhanklik is, soms deur die samelewing verstoot word.  Dis verstaanbaar, maar die probleem is dat dit juis hulle is wat Jesus se onvoorwaardelike liefde nodig het.  As almal hulle rûe op hierdie mense draai, wie gaan na hulle uitreik en hoe gaan hulle sy liefde ervaar?  Het Hy nie juis vir die gebrokenes van hart gekom nie?

Daarom het CMR Lydenburg sedert 17 Oktober 2011 in samewerking met Ondersteuningsraad ‘n ondersteuningsgroep by die CMR begin.  Die rede vir die onstaan van die groep was vanweë die feit dat daar vanuit kliënte binne ons gevallelading (wat in die web van dwelms en drank vasgevang is) ‘n noodkreet opgegaan het wat die  behoefte aan ondersteuning sterk onderstreep het.

Dit is wel so dat mense soms verkeerde keuses maak en dat groepsdruk en verkeerde vriende ‘n rol speel, maar ons het gevind dat substansafhanklikheid in baie van die gevalle ontstaan vanweë die feit dat individue nie die nodige liefde, aanvaarding en ondersteuning in hul lewens ervaar het nie en nie weet waar hulle inpas of wie hulle is nie.  In sommige gevalle gee mishandeling in die kinderjare ook aanleiding daartoe dat mense – in ‘n poging om die seer van hul kinderjare te vergeet of te onderdruk – hulle tot hierdie middele wend.

Alhoewel elke mens, wanneer hy oud genoeg is, ‘n besluit moet neem en self verantwoordelikheid vir sy lewe en keuses moet neem, en verkeerde dade en keuses nie op enige manier geregverdig kan word nie, is mense met afhanklikheidsprobleme verder soms ook produkte van hul opvoeding.  Hulle het moontlik nie ‘n stewige fondasie en/of sekuriteit gehad het nie.  Die soeke na liefde en aanvaarding en om êrens te behoort, is dus baie groot en juis daarom beteken ‘n ondersteuningsgroep vir hulle baie, bloot net sodat hulle kan voel daar is iemand wat omgee en hulle aanvaar soos wat hulle is.

Die betrokke groep is nog in sy beginfase.  Tans is die doel meestal ondersteuning en bemoediging.  Dit is belangrik om die behoefte van die groep ook in ag te neem en nie eie idees af te dwing nie.  Die huidige groep se grootste behoefte is om te voel dat hulle nie alleen in hulle stryd is nie en dat hulle ‘n plek het waar hulle kan behoort, ondersteuning kan ervaar en gehoor kan word.  Dit is vir hulle ‘n lig in die donkerte waarin hulle hulleself bevind.

Wat ek deur my betrokkenheid by hierdie groep geleer het, is dat ‘n mens eers werklik die leefwêreld van ‘n verslaafde kan verstaan as jy self daardeur was of as jy bereid is om self ‘n pad met hulle te stap.  Elkeen het ‘n storie om te vertel.  Daar is altyd ‘n rede waarom hulle is waar hulle is.  ‘n Mens maak maklik verkeerde afleidings en takseer iemand op sy baadjie, maar dikwels lê die problematiek dieper as wat met die oog gesien kan word.

Ons het gevind dat meeste van die individue in ons groep werklik vasgevang is in ‘n web van substansmisbruik.  In baie gevalle is dit nodig dat hulle vir rehabilitasie gestuur word.  Baie mense voel dat behandeling nie werk nie of dat dit nie die moeite werd is om in so ‘n persoon te belê nie.  ‘n Mens weet egter nooit wanneer die draaipunt kan kom nie.  Dit mag dalk net wees dat hy of sy daardie derde keer deur die Here aangeraak word.  Dan is dit nie net ‘n lewe wat verander word nie – ‘n siel word gered wat potensieel weer baie ander kan aanraak.

Ek sluit af met die volgende woorde van een van die groeplede wat my hart diep aangeraak het:  “Almal wil raad gee en help, maar niemand wil luister nie.”  Somtyds wil mense net gehoor word.  Dit verlig hulle las as hulle weet iemand is bereid om te luister.  So word ons Jesus se hande en voete in ‘n gebroke wêreld wat uitgehonger is vir sy liefde.