(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

Die ingewikkelde aard van gesinsprobleme het so toegeneem dat die assessering van en terapie aan hierdie tipe kliënte spesiale aandag verg.  Daarmee saam het kliënte van kinderhowe toenemend prokureurs wat hul saak in die kinderhowe steun.  Dit noodsaak dat maatskaplike werkers se verslae aan die Kinderhof waterdig moet wees.

Hierdie toedrag van sake het CMR Nelspruit genoodsaak om op ’n baie gespesialiseerde wyse met gesinsorgsake om te gaan.  Daarom is ’n terapie-eenheid by CMR Nelspruit op 1 Julie 2011 geopen.

Wat bied die terapie-eenheid?

Die diens is drieledig van aard:

  • Assessering
  • Terapie
  • Opleiding

Assessering:
Alvorens suksesvolle dienslewering kan geskied, is holistiese assessering noodsaaklik.  Assessering vir kinderhofsake, interaksionele analises, persoonlikheidsanalises, forensiese assesserings in gevalle van beweerde seksuele molestering en gesinsgeweld.

Terapie:
Huweliksterapie, bindingsterapie, ouerleiding, spelterapie, ‘bio-feedback’ van trauma en ADD/ADHD, trauma- ontlonting, traumaterapie, individuele terapie vir onder andere seksuele molestering en volwassenes wat seksuele molestering as kind beleef het, kinders/tieners met gedragsprobleme, emosionele probleme.

Individuele/groepwerk met pleegouers en pleegkinders. Ouerleiding en huweliksterapie met die oog op gesinshereniging van pleegkinders.

Opleiding:
Opleiding van professionele persone en versorgers binne die organisasie in terme van spelterapie, bindingsterapie, berading en gesinsgeweld.

Ontwikkeling, akkreditering en aanbieding van opleidingsprogramme vir professionele persone, binne en buite die organisasie om CPD- punte te bekom.

Personeel
Die terapie-eenheid word beman deur ’n maatskaplike werker met  spesialiskennis in bogenoemde gebiede,  in besonder spelterapie, forensiese assessering, volwasse en kinderassesserings, mediasie en remediërende onderwys.  Vanweë die goedgesindheid van NG Kerk Nelspruit-Suid word die terapie-eenheid vanaf die perseel van CMR bedryf.

Die waarde van die terapie-eenheid is veral geleë in:

  • Die spesialiskennis en vaardighede wat gesaghebbende resultate lewer, ook vir howe.
  • Maatskaplike werkers word ondersteun en riglyne word gebied met die verdere hantering van moeilike sake.
  • Die eenheid word in noue samewerking met die NG-gemeentes, veral Nelspruit-Suid, bedryf.  So word nie net kliënte van die CMR bereik nie, maar ook gemeentelede waarby predikante betrokke is.