(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

Die nood van kinders wat deur MIV/Vigs in Suid Afrika geaffekteer word, is alombekend.  Daarom het NACCW (National Association for Child and Youth Care Workers) ’n model ontwikkel wat hierdie nood kan verlig.  Vosman in Emalahleni is een gebied waar die model geïmplementeer is.  Tans is 15 Child and Youth Care Workers aangestel wat betrokke is by die versorging van ongeveer 500 kinders in Vosman.

Angel is gebore in ‘n gesin waar haar pappa se omstandighede onbekend is.  Sy en haar mamma het by haar ouma gewoon in die eenvoudige tweevertrekhuisie.  Haar mamma het skielik meer tyd by die huis deurgebring, gewig verloor, al het sy geëet.  Op ‘n dag was dit te veel moeite vir haar om op te staan.  Angel, met haar klein lyfie, en Ouma, met haar reeds moeë lyf van baie jare, moes haar mamma help was, eet en aantrek.  Die eens vrolike mamma het met hol wange daar gelê.  Angel kon nie verstaan wat gebeur nie en het bly hoop dat haar mamma weer gesond sou word, dat hulle weer hand aan hand winkels toe kon loop.  Die moeë Angel het egter gesukkel om haar oë oop te hou as sy moes huiswerk doen.  Om met woorde op papier te speel was die enigste manier hoe sy kan vertel hoe sy voel …

Op ‘n dag kom daar ‘n vriendelike tannie om vir haar ouma te help met haar mamma.  Nou kon Angel meer tyd aan haar huiswerk spandeer.  Die tannie neem haar ook saam na ‘n parkie waar daar baie ander kinders speel.  Vir Angel is dit die lekkerste om op die swaai te ry – hoog – dat sy die wind in haar gesig kan voel.  Dan kan sy bietjie vergeet van haar mamma wat siek by die huis is.  Na ‘n paar weke toe Angel by die huis kom, is haar mamma nie meer by die huis nie.  Haar bed is leeg en koud.  Dit is ook duidelik dat haar ouma gehuil het.  Die tannie van Isibindi is ook daar en troos.  Sy het kos gebring en help hulle met al die reëlings vir haar mamma se begrafnis.

Nadat haar mamma begrawe is, het die vriendelike tannie Angel elke dag kom haal om saam met al die ander maatjies te speel en haar gehelp om huiswerk te doen.  Ouma is deesdae ook rustiger en nie so moeg nie.  Angel mis haar mamma nog, maar weet dat sy nie meer seer het nie.

In Julie 2011 het NACCW ’n Jeugkonferensie in Port Elizabeth gehou.  Angel was een van die bevoorregte kinders wat genooi is om te gaan.  Dit was haar eerste ervaring van ’n vliegrit en verblyf in ’n hotel.  Tydens die konferensie is Angel deur die organiseerders gevra om een van haar gedigte voor te lees.  Alhoewel sy baie senuweeagtig was, het sy voor 1,500 mense gestaan en die gedig voorgelees waarvan sy die meeste gehou het.  Om alles te kroon, is die gedig in die Child and Youth Care Journal gepubliseer.

Angel is nou agtien en vol afwagting vir die uitslae van die Gr 12-eksamen wat sy pas afgelê het.  Sy is gereed om ’n toekoms vol uitdagings aan te pak, danksy die ondersteuning en geleenthede wat die Isibindimodel vir haar gebied het.