(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

My Lewe in ‘n Dagboek – storie van Elsa Verwey – vanuit die kliënt se perspektief

Die eerste dag waarop ek ‘n afspraak met die maatskaplike werker gehad het, het my hele lyf in gordelroos uitgeslaan.  Ek was nie net bang nie, ek was benoud.  Hoe gaan ek vir haar vertel van al my einas?  Ek sal die kat maar eers goed uit die boom kyk …  Die maatskaplike werker was vriendelik en het rustig vir my gewag om te praat MAAR ek kon nie, die woorde het in my keel vasgesteek.

Tydens die tweede afspraak het ek en sy weer net gesit en ek kon nie praat nie.  Teen die vierde afspraak het ek wel begin om oor die weer te praat.  Sy het nie moed op gegee nie en ons het na 5 afsprake steeds nie gepraat nie.

Tydens die sesde afspraak het ek begin vertel van my skilderye.  Sy het vir my begin huiswerk gee nadat ek eers ‘n lys moes opstel van wat ek alles kon doen.  So het my skrywery begin;  ek moes dagboek hou en prente skilder.  Ek kon toe my storie begin vertel.

My lewe het in ‘n dagboek begin inpas – vandat ek die eerste keer gemolesteer en verkrag is en deur my ouers geslaan is, tot  met die dood van my baba.   Ek kon skryf oor my ongelukkige huwelik en die depressiemonster, tot oor my liefde vir my troeteldiere.  Ek het begin om met my maatskaplike werker op papier te praat en so het ons begin om oor  al my einas te praat – een vir een.

Ek het weekliks ‘n afspraak by Liza (maatskaplike werker) gehad en elke week het ek huiswerk gekry.  Ek moes briewe vir almal skryf waarin ek my hart moes uitpraat en dan is die briewe na Liza toe.  Sy het dit deurgewerk en ek het begin om tydens my afsprake daaroor te gesels.  Niks in my lewe is uitgelaat nie, maar ek wou ook begin praat.  Ek het so lank gewag.  As ek net vinniger en vroeër by Liza uitgekom het, was ek lankal gelukkiger.  Ek is reeds ‘n jaar lank in terapie en ek ontdek myself oor en oor, my sterkpunte, swakpunte, en my voorkeure …

Die pad wat ek in terapie moes stap, was vir my die swaarste ding wat ek tot nog moes deur.  As ek terugkyk, soek ek nog die “ou” ek, maar sy bestaan lankal nie meer nie.  Soms sit dit vreemd aan my lyf.  Almal om my vra wat anders is en sê ek is ‘n beter mens.  Dan glimlag ek net.  Ek is nuut en kyk na die lewe met ander oë.  Ek is die nuwe Elsa!

Resultate? Ja, vir seker:  MY HUWELIK IS GERED, MY KIND IS BEGRAWE, MY VERLEDE IS VERTEL, EK HET VERGEWE, EK HET BEGIN VOLUIT LEWE EN MY VERTROUE IN MENSE IS HERSTEL.  CMR- Ermelo het my lewe en uitkyk verander. Ek het selfs ‘n hegter band met God.