Wie ken dit nie in ons land nie! Die eindelose rye huisies, aanmekaar getimmer van sink, hout of enige denkbare stukkie afvalmateriaal om skuiling te bied teen die elemente. In die somer voel dit soos ‘n bakoond in die huisies, in die winter is dit weer ysig koud as daar nie kole is vir die konka of die swart stoof om die koue te verdryf nie. Dit is hier waar die armstes van die armes leef. In Newtown by Middelburg woon ongeveer 15,000 mense in 2,400 plakkershuisies. Min van hierdie huisies het nommers en daarom is inwoners dikwels onbereikbaar. Dit ruk aan jou hart as jy sien ernstige siek mense op kruiwaens na ’n bepaalde punt gestoot word, omdat die huisie waar die pasiënt woon, nie ‘n nommer het en die ambulans dus nie weet hoe om daar te kom nie.
Op ‘n dag probeer jy ‘n plan maak om jou werk te vergemaklik. Jy beplan om die huisies te nommer – ‘n uitdaging, omdat ons by CMR altyd ons sente na rande moet rek.
Na ’n groot soektog en beplanning kry jy die materiaal en verf en die groot werk begin. Maatskaplike werkers, hulpwerkers en vrywilligers spring in.
Ons het Ligkruis Gemeente genader om vir ons vir die 8 dae wat ons voorsien het om die projek te voltooi, van etes te voorsien, wat hulle met blymoedigheid en groot entoesiasme gedoen het. Die gaar vleis wat hulle voorsien het, is aangevul met pap, voorberei in die huis van ‘n pleegouer in Newtown, waar ons ook ons etes uit plastiekborde en –bekers van ons Karnallieland Speelgroep geleen het, genuttig het.
Die plaaslike munisipaliteit is ook vooraf genader om die projek deur middel van afkondigings in Newtown bekend te stel. Hulle moes onder andere die inwoners wat werk, versoek om toestemmingsbriewe in ‘n houer by die plaaslike raadslid se huis te laat, indien hulle wel ‘n nommer op hulle huise geverf wou hê.
Die werk het op ‘n Maandag om 09:30 begin. Gou-gou was daar genoeg hande om te help: 7 spanne wat elk uit 2 volwassenes en 2 kinders bestaan het. ’n Gekleurde lappie materiaal is om die arm van elke kind gebind, want ondervinding het ons geleer dat die kinders sommer kan verdubbel as dit by kosgeetyd kom. So het ons van een punt van die plakkerskamp na die ander gewerk, van 9:30 tot 14h30, met ’n uur vir ete. By elke huis moes ons toestemming vra om die nommer te verf. Sommige inwoners het skamerig gevra wat dit sou kos, maar toe hulle hoor dit is MAHALA, het hulle breed geglimlag en en toestemming gegee. Baie het egter nie toegestem nie omdat hulle nie TV-lisensies betaal het nie en bang was dat die SAUK hulle makliker sou kon vervolg as hulle ‘n nommer op hulle huis het. ’n Ou grysaard het laggend vertel dat hy al 20 jaar in Newtown woon en nog nooit ’n nommer gehad het nie. Die stadsraadslid van Newtown was so beïndruk met ons nommers, dat sy ook een wou hê, ten spyte daarvan dat daar reeds ‘n nommer op haar huis was. Dan was daar van die inwoners wat ook gedink het die verwers werk vir die stadsraad – hulle is dadelik reggehelp.
Ons kon binne ses dae en verf nommers op 1,200 huise verf. Die vreugde was groot, want nou kan almal – selfs die ambulans – die inwoners bereik. En as jy besef die armstes van die armes kan nie eers ’n nommer bekostig nie, kyk jy in eerbied na bo en dank die Hemelse Vader vir alles wat jy het. Die woorde uit die Lied “Gebed” – “Wat ek is, is net genade; wat ek het, is net geleen” – kry dan soveel meer betekenis.