(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

Dit was ook in die Greenvalley/Arthurseat gebied waar die gevolge van ouers met MIV/Vigs baie duidelik na vore gekom het:  kinders wat wees agtergelaat word;  kinders wat self MIV positief is.

Die Wêreldfonds (Global Fund) het ons in staat gestel om in hierdie area vir 60 kinders  een gekookte maaltyd per dag te voorsien.  Die kinders word ook gehelp met hulle skoolwerk en lewensvaardigheidsprogramme word aangebied.  So word die kinders in die area se nood verlig.

Multi Ministries het ook al ‘n uitreik na die kinders gedoen en groot was die vreugde toe die kinders kon speel met balonne en kon sing en dans en stories hoor vanuit die Woord.  Kinders wat eens nie hoop gehad het nie en met dowwe ogies sleepvoetend rondgeloop het met vuil kleertjies, speel opgewonde buite en wil nie in die middae huis toe gaan nie.  Wanneer die silwer Lotto-bakkie kom  en kos bring, is daar skielik 120 klein handjies wat gretig wil help.  Daar word gelag en gespeel en skielik het die kerk in Arthurseat weer lewe.

Twee versorgers word deur Global-fondse gefinansier om hierdie kinders te versorg, te besoek en vir hulle die nodige aandag te gee;  en twee kokke staan in die warm son buite en kook kos vir die kinders oor ‘n oop vuur in twee groot swart potte wat die gemeente voorsien het.

Onlangs is daar vir die kinders komberse uitgedeel wat deur ’n NG-gemeente geskenk is – dit was asof hierdie kleingoed baie geld ontvang het en hulle kon nie gou genoeg tuis kom om met hulle komberse te spog nie.