(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

Baie van ons is bekend met die naam, maar min weet werklik hoe groot die area is en hoe die hartklop van die area werk.

Bosbokrand  word begrens deur die Lebomboberge in die Weste en in die Ooste deur die Nasionale Kruger Wildtuin.  Die Noordgrens is die Bosveld van Hoedspruit en die Suidelike grens die Piesangplantasies van Hazyview.  Dit is ‘n uitgestrekte area met verskillende fasette van kulture, gewoontes en gebruike, klimaatstreke, ens.

Ek wil hiermee u net vir ‘n vinnige,  kort reis deur die area en die inwoners neem en julle so ‘n bietjie nuuskierig maak …

Hierdie area was eens vergete en so ver verwyder en agtergeblewe dat baie mense sou vra waar dit dan is?  Maar helaas …

Intussen het die bevolking aangegroei tot ongeveer 3 miljoen mense wat hier woon – hier vind jy feitlik al die inheemse tale en mense praat hul taal ten spyte daarvan dat hulle mekaar soms glad nie kan verstaan nie. Binne die area moet tolke dikwels optree om begrip vir mekaar se omstandighede te verkry.  Hierdie fenomeen het die laaste 6 jaar tot ‘n groot probleem gelei: mense van die buiteland het die area binnegekom en tans word jy in die winkelsentrums bewus van “vreemde” tale wat die mense met mekaar praat. Dit is verseker nie een van die 11 landstale nie – dit is Zimbabwiërs, Nigeriërs, Somaliërs, Malawiërs, Mosambiekers, Zambiërs en dan ook ‘n groot aantal uitgewekenes vanuit hulle gemeenskappe, plaaslik en internasionaal.

Lang, slap, duur voertuie ry met ‘n oorverdowende “gedoef-doef” en met ‘n arm wat vanuit die bestuurder se kant uithang deur die strate en deel vir ons kinders dwelms uit net om volgende week hul geld te kom opeis, wat hulle nie het nie.

Daar word vir ons mammas wat werkloos, broos en weerloos is en alles probeer om hulle kinders van kos te voorsien, geld (‘n skamele R3,000 tot R4,000)  aangebied om hul jong dogters van 14 of 15 toe te laat om met ‘n buitelander te trou. O nee, hy misbruik haar nie seksueel nie – sy is net sy lisensie tot burgerskap in Suid Afrika. Hy sien haar nooit weer nie en sy hoor vir die eerste keer dat sy ‘n onbekende van het wanneer sy aansoek doen vir haar buite-egtelike baba se “Child Support Grant”.  Haar eggenoot kan nie opgespoor word nie en sy kan nie enige toelae vir haar baba ontvang nie. Sy moet die vader dagvaar vir onderhoud – ‘n vader wat nie eens aan haar geraak het nie en ook nie die baba verwek het nie. Hy weier en die mamma en die baba word aan die genade van ‘n reeds werklose, verarmde gemeenskap oorgelaat.

In een van die vele ”villages” het ons onlangs ‘n selfmoord gehad  – die jong seun van 17 jaar wat homself opgehang het, het nie meer hoop gehad nie.  Sy ouma het nie gewerk nie; sy ma het nie gewerk nie; haar susters het nie gewerk nie. Hy het ook nie self hoop op werk gehad nie.  Sy pa was so lanklaas tuis dat hy nie weet of hy hom ooit geken het nie.  Sy vriendin was swanger en die hopeloosheid van TB en HIV het swaar oor sy kop gehang.  Hierdie jong seun het nie meer hoop gehad nie …
Waar is die pappas dan?  Die meeste van die biologiese vaders van ons kinders is mans wat in die myne gaan werk het.  Hulle gesinne het agtergebly, hy het vir hom na ‘n tydperk ‘n nuwe lewe uitgewerk in die stad (met ‘n gesin wat die stad en die gewoontes van die stad najaag) en vergeet van die gesin wat elke feesgety uitkyk vir hom om te kom kuier.

Tydens feestye loop Bosbokrand oor van familie en vriende wat kom  kuier en die natuur en die rustigheid geniet.  Dan word Kersfeeskos en klere gekoop, en Bosbokrand is ‘n miernes van bedrywighede.  Families en gesinne kom byeen en kriminele elemente wat van die stede af kom, kom dan ook “huis toe”.  Wanneer die myne en industrieë sluit, is hier skielik baie meer mans en hulle het ook dik beursies wat op drank en boubenodigdhede uitgegee word.   Soos die geld minder raak, so raak die besoeke aan die dorp (Twin City) ook minder en uiteindelik moet hul weer dringend weggaan om te gaan werk soek.  Die ekonomiese insinking het ook al hier sy stempel afgedruk.
Terug na die gemeenskap van Bosbokrand.  Daar word beweer dat daar groot kerke in die area is wat hul eie OTM-masjiene  het – wanneer mense dienste bywoon, moet hulle glad nie sukkel om hul bydrae te lewer nie. Die dominee moet immers nie sukkel om te oorleef nie!  Die godsdiens en kerke het dus ook nie ongeskonde gegaan nie.

Om deur ‘n vriend of familielid by ‘n toordokter verkla te word en met “muti” op jou plek gesit word, is aan die orde van die dag en ‘n alledaagse verskynsel.

Dan is daar ook die deel waarvoor elke individu in die area vrees – MIV.

Daar is ‘n geweldige groot voorkoms van MIV/Vigs in die area en behalwe dat ‘n groot aantal kinders en grootmense siek is, is daar ook ‘n baie groot aantal weeskinders.  Die siekes in die gemeenskap het al so deel geword van die samelewing dat daar nie meer daaroor gepraat word nie, maar alles net gelate aanvaar word.

Tienerswangerskappe is ‘n algemene tendens wat dikwels ook MIV/Aids tot gevolg het.  Die behoefte aan “Child Support Grant” is groot, want die geld kom handig te pas vir die ma, terwyl die baba kan deur die ouma versorg word.

In een van die gemeenskappe (Relani Skoolarea) het die onderwysers hulle geld bymekaargesit en vir die kinders wat MIV positief en honger is, elke dag ‘n paar snytjies droë brood gekoop. Dit was die enigste kos wat hulle vir die dag sou inneem.   Die behoefte aan kos het na vore gekom, nadat van die kinders by die skool flou geword het en die onderwysers ondersoek ingestel het. Die kinders drink medikasie vir HIV/Aids, maar omdat hulle nie eet nie – want hulle het nie kos nie – word hulle flou by die skool.    Die CMR is genader en daar is by hierdie skool begin met ‘n naskoolsentrum – die naam spreek vanself – die “GOOD HOPE”-sentrum.  Ons het slegs fondse vir 30 kinders gehad.  Daar is tans 80 kinders wat die sentrum bywoon.  Intussen is die fondse vir die skool ook in die weegskaal – dit was geborg deur die Wêreldfonds (G8 lande) en die voorsiening van geld is tans onseker.

Die verhaal van Bosbokrand kan aangaan en aangaan, maar wat word in die Woord van ons as Christene gevra? Wees lief vir ander soos vir jouself.

Sal ons onsself so lief kan hê?