“Gift” beteken geskenk/present… Iets van waarde wat mooi toegedraai en verfraai is. ’n Geskenk is iets waaroor die meeste van ons opgewonde kan raak, veral as ons lank gewag het daarvoor. Dit word versigtig hanteer en kry ‘n spesiale plekkie in ons huise.
Klein Gift is gebore as gevolg van sy ouers se onkunde. Of was hy maar net die resultaat van ‘n volwassene wat nie aan die gevolge gedink het nie? Gift is gebore in ‘n gesin waarvan die mamma jonk en ongetroud was. Die pappa was nie meer in die prentjie nie en die mamma het groener weivelde gaan soek. Die gras was toe nie so groen aan die ander kant nie – en daar was gereelde konflik en soms geweld …
Op ’n dag, terwyl Gift op die verslete bank lê met groot ogies, het Mamma en die nuwe man in haar lewe baie baklei. Dit was nie die gewone bakleiery nie, want daar het ‘n pot kokende water op klein Gift geval. In ‘n breukdeel van ‘n sekonde het Gift se lewe onherroeplik verander.
Gift was maande lank in die hospitaal met eerstegraadse brandwonde. Die eens sagte velletjie het styf getrek. Sy koppie, regterarmpie en lyfie was toegedraai in verbande en moes gereeld geruil word. Mamma het soms kom kuier. Met sy ontslag is hy in Mamma se sorg geplaas, omdat haar omstandighede verander het. ‘n Paar maande later is hy egter weer vir ondervoeding in die hospitaal opgeneem.
Gift is op 18 maande in ons Veiligheidshuis, Huis Shamah opgeneem. Die eens sagte lyfie was nou styf met ogies wat nie wou fokus nie. Hy toon geen emosie nie, kan nie sit of loop nie, kan geen vaste kos eet nie. Sy enigste manier van kommunikasie is om te huil – ‘n baba met spesiale behoeftes. By die lys kan ook gevoeg word: MIV- positief. Hy is soos ‘n ou mensie in ‘n baba se lyf. Hy is ‘n baba wat in ‘n paar maande aan ‘n leeftyd se trauma blootgestel is.
Vandag, amper ‘n jaar na Gift se opname in Huis Shamah, is daar merkbare vordering: Gift kan al lag en met ondersteuning regop sit. Waar daar gevrees is dat hy moontlik ‘n sigprobleem het, volg hy voorwerpe met sy oë. Hy toon al emosie en al kan hy nog nie praat nie, babbel hy vrolik op sy manier. Gift het vir 10 maande gratis arbeidsterapie ontvang en ons kon sy vordering met opgewondenheid volg. Hy sal egter vir altyd ‘n seuntjie met spesiale behoeftes bly en vra daarom ‘n spesiale vrou wat hy “mamma” kan noem. Hier speel die maatskaplike werker ‘n belangrike rol om te verseker dat hierdie klein seuntjie sy regmatige plekkie in die son kry …
Soos Gift is daar vele ander kindertjies wat weer heel geword het met baie liefde en vertroeteling by ons veiligheidshuise.