(013) 243 4776 sekrm@cmroos.co.za

Dink net hoe dit moet voel om nie jou naam te kan teken nie, selfs nie eens ’n pen te kan vashou nie.  Selfs inkopies word ’n frustrasie, want jy kan nie die pryse op die winkelrakke lees nie.  In die bank en poskantoor bly jy afhanklik van ander om jou te help.  Ook die Bybel is ’n boek vol vaal simbooltjies.

Die CMR Volksrust het die afgelope drie jaar ’n groepie volwassenes leer lees en skryf en so ’n nuwe wêreld vir hulle oopgemaak.

Ons het agtergekom dat van die mense nie mooi kan sien nie.  ’n Plaaslike oogkundige was behulpsaam om die mense se oë gratis te toets.  Gewapen met leesbrille is die kanse op vordering aansienlik verbeter.

Om ’n pen vas te hou, is moeilik.  Vanweë die inspanning kramp die hande en voorarms – daarom word daar voor elke klas oefeninge gedoen.  So kom stram litte los en bloedsomloop word verbeter.

Om lees- en skryfvaardighede op volwasse ouderdom aan te leer, is ’n reuse-uitdaging wat baie geduld verg.  Die verskil wat dit in hierdie mense se lewens maak, word bevestig deur hul bywoning.  Hulle mis nie een klas nie.

Aan die einde van elke klas kry elkeen wat opgedaag het, ’n groentepakkie om huis toe te neem.  Dit dra nie net by tot ’n gebalanseerde maaltyd nie, maar beloon en motiveer ook die mense om aan te hou.