Ek onthou dit asof dit gister was – die tweejarige blondekopseuntjie wat verward en vol verbasing by my in die kar klim. Ek hou hom in die motor se spieëltjie dop en pik ‘n traan. Nie een van ons was bewus daarvan hoe hierdie dag die res van ons lewens sou raak nie. Die omstandighede en gebeure van die afgelope jaar speel weer in my gedagtes af …
‘n Sestienjarige dogter gee geboorte aan ‘n blondekopseun. Sy woon alleen by haar moeder. Haar moeder sukkel om die pot aan die kook te hou. Daar is selde kos in die huis. Hulle woon in buitekamers en buitegeboue. Die enigste manier om kos op die tafel te sit, is om mans te onthaal. Alkoholmisbruik en besoeke aan kuierplekke is aan die orde van die dag. ‘n Verwaarloosde seuntjie word in ‘n stootwaentjie rondgestoot. Kinderhofverrigtinge is onafwendbaar, Sean moet verwyder word. Die beste alternatief is pleegsorg.
Die pleegouers is vol opwinding en ontvang die seuntjie met ope arms. Hulle oorlaai hom met liefde en omgee, op hulle eenvoudige manier. Vyf jaar stap aan en ek sien hoe hierdie blondekopseuntjie groot word, blom en presteer. Die pleegouers doen aansoek en neem die blondekopseuntjie aan. Hy het nou ‘n nuwe tuiste gevind en hulle is ‘n pragtige blondekopseuntjie ryker.
(Sean was 2 jaar oud toe hy verwyder is. Sy ma het nooit weer met hom kontak gemaak nie. Die pleegouers het hom aangeneem. Hy is nou 7 jaar oud en ‘n liefdevolle, gelukkig seun.)